Vroeër vanjaar hou die Voorsitters van Tutela se Gesinsorgkantore (CMRade) ‘n werksessie met die tema Oorlewing 2020. Onder leiding van dr Johan Botha, die portefeuljeleier vir Diens en Getuienis, gesels die voorsitters en assistant direkteure (maatskaplike werk programbestuurders) oor hoe kerklike maatskaplike werkdienste in die toekoms gaan lyk. Die manne en dames praat en dink en bid en maak planne om te oorleef en gee terugvoering aan die Uitvoerende Komitee van Tutela.
n die terugvoering kom die volgende sake duidelik na vore as die prioriteite waaraan die Gesinsorgkantore (CMRade) tot 2020 sal moet aandag gee.
Die Gesinsorgkantore (CMRade) kry finansieel swaar
Daarom raak die tema van die werksessie Oorlewing 2020. Staatsubsidies word nog getrou oorbetaal en die staat bied selfs meer poste aan, maar die verskil tussen die subsidies en die werklike uitgawes om ‘n maatskaplike werk of hulpwerk pos in stand te hou raak net te groot. Aan die ander kant raak kerklike bydraes en donasies uit ander bronne minder vanweë die ekonomiese werklikhede in ons land. Die hartseer van hierdie situasie is dat armoede groei waar die ekonomie kwyn. En as kerk het ons mos die roeping om ‘n verskil te maak.
Al die beheerrade maak deurlopend planne om tekorte aan te vul en koste-effektiewe dienste te lewer
Ons nooi ringsdominees vir ‘n ontbyt om die saak van ons missionale diakonaat op die tafel te sit. Ons het verskillende fondsinsamelingsprojekte, van golfdae tot ‘n vakansie wat gewen kan word. (Kyk ‘n bietjie na die webblad http://www.dream2travel.co.za/) Ons werk met verouderde rekenaars, ry ou motors en ry soms selfs taxi om koste te bespaar, maar ons dien die gemeenskap en plaas die kerk se vingerafdruk waar ons kom!
Daar kan nie een generiese bedieningsplan vir almal wees nie
In die besprekings het dit gou duidelik geraak dat elke ringsgebied ander uitdagings het. Daarom het elke Gesinsorgkantoor (CMR) ook unieke uitdagings en bedieningsgeleenthede. Die behoeftes van mense in verskillende ringsgebiede verskil van mekaar en daarom verskil die dienste wat gelewer word ook soms van mekaar. Dikwels oorskadu die geestelike en maatskaplike nood van mense hul materiële nood ver.
Daarom kan daar ook nie een generiese bedieningsplan vir almal wees nie.
Ten spyte van die finansiële uitdagings bly besture positief oor die toekoms.
By die werksessie herinner ons mekaar daaraan dat ons as kerk altyd sal doen wat ons kan met wat ons het! Ons roeping as gestuurdes van die Here na ‘n wêreld in nood, dwing ons egter om nooit op te hou en niks te doen nie. Daarom wil Tutela in al sy strukture graag ook gemeentes help sodat ons saam missionale diakonaat kan doen en ‘n vingerafdruk kan laat!
Botha van Aarde