30 Jaar Getroue Diens

Op 6 Mei 2016 het me Hannie Bosman, operasionele bestuurder van die Tuiste vir Bejaardes, Nigel, dertig jaar diens by dié Tuiste voltooi.  Hannie is as operasionele bestuurder verantwoordelik vir die gladde verloop van aktiwiteite in die kombuis, washuis en skoonmaak van die Tuiste.  Sy doen ook maandeliks die aankope van die kruideniersware en vleis vir die Tuiste.  Voorts hanteer sy die sakgeld en sakgeldregister van inwoners in die versorgingsoord benewens vele ander take wat daagliks op haar tafel beland. Hannie is daarvoor bekend dat sy die rieme dun en reguit kan sny en is dus iemand wat geen vermorsing verdra nie.  Sy is ook ‘n planmaker wat altyd met ‘n praktiese voorstel na vore kom om ‘n uitdaging te oorbrug.  Op so ‘n wyse het sy ‘n paar jaar gelede voorgestel dat ‘n blok woonstelle gebou word in die plek van motorhuise om sodoende die nood aan behuising vir selfversorgende bejaardes te probeer oplos.  Die woonstelblok huisves tans 15 inwoners en staan algemeen bekend as “Hanniehof”. Oor die loop van dertig jaar het sy haar twee kinders en drie kleinkinders deur die skool ondersteun.  Twee van haar kleinkinders het sy ook deur Universiteit gehelp in hierdie periode.  Sy help tans ook daagliks met die versorging van haar moeder, wat ‘n inwoner in die Tuiste is.  Tydens haar dienstydperk het sy onder drie bestuurders gedien. Op 9 Mei het die personeel vir haar ‘n funksie gereël om dié geleentheid te vier.  Haar ses-en-negentigjarige moeder, drie van haar ses susters asook haar en dogter en skoonseun het die geleentheid bygewoon saam met inwoners van die versorgingsoord, inwoners van die woonstelle en aftree-oorde, asook lede van die bestuursraad en Tutela. Ons wens Hannie nog ‘n paar goeie en gesonde jare by die Tuiste vir Bejaardes toe met die hoop dat ons nog lank van haar kundigheid sal kan gebruik maak. 30 Jaar CHRIS ENGELBRECHT                                                                                                              Bestuurder/Manager:  Tuiste vir Bejaardes Nigel